The Bookshelf Event 30 Julie 2026: Debbie Loots, Annemarie van Niekerk en Lidia Rauch in gesprek met Jonathan Amid
Geleentheid Twee in die Ken Forrester The Bookshelf Events bring drie onmiskenbare, opwindende vrouestemme in gesprek met mekaar: Debbie Loots, Annemarie van Niekerk en Lidia Rauch. Die drietal gaan die aand van Donderdag 30 Julie met Jonathan Amid gesels oor hulle nuwe publikasies – wat dit beteken om te leef en skeppend te verkeer in Suid-Afrika en veral oor hoe hulle die verhouding tussen geleefde werklikheid, die geskiedenis en die hede en die verbeelding as vroue en woordkunstenaars sien. Hierdie gesprek is een wat jy eenvoudig nie mag misloop nie!
Kortliks meer oor elk van die drie boeke:
Op die drumpel van sestig sukkel die hoofkarakter van Debbie Loots se Die vrou met nege lewens om rus in haarself te kry. Die enigste konstante blyk haar sorg van katte te wees, wat soos ’n draad deur haar lewe loop. Onvergenoeg met haar werk, die mense naaste aan haar, en veral haarself, gaan sy op ’n soektog na betekenis in haar lewe. Dit lei tot lang meditasies, swem in die see, joga, en selfs psigedeliese reise, met verreikende gevolge. En dan word haar soeke deur ’n gesondheidskok op die spits gedryf.
Twintig jaar gelede moes Ada in Annemarie van Niekerk se Die Oorkant noodgedwonge haar grootwordplaas in die Goukou-vallei verlaat. Aan die oewer van die silwerwit getyrivier keer sy nou terug na die geheime van haar kinderjare. Terwyl Ada by haar vriendin Mel, ’n omgewingsnavorser, bly, probeer sy deur haar skryfwerk die skimme van haar verlede tem.
Maar hoe meer sy soek na die kind met die swaaiende rooi emmer wat agter haar pa aanloop om garnale te gaan pomp, hoe meer ontglip dié kind haar. Want die kind weet hoe om wegkruipertjie te speel sonder ’n den, die kind weet dat alles in die skemer ’n ander lewe kry, dat alle reëls verdwyn. Die kind weet hoe dit voel om verlangend na jou ma se reuk te soek en hoe dit klink as jou broer se gehuil in die skuur deur die jare ’n ander klank kry. Die kind weet hoe groot die klein woordjie “Pa” kan word, daardie woord wat jou nie wil loslaat nie.
’n Onthutsende en ontroerende roman oor gesinsgeweld en die vrae of die natuur verligting en die tyd genesing kan bring.
Lidia Rauch was born at the crossroads of South Africa’s past and present – the granddaughter of one of apartheid’s longest-serving ministers, Fanie Botha, raised in a world built for her comfort, yet called to reckon with its cost. In Apartheid’s Granddaughter, her story moves between privilege and pain: from a childhood marked by fracture to a career inside the machinery of government, to the long, uneasy road of reckoning with what it means to be white, Afrikaans, and free in a country still carrying the weight of its past.
'n Boeiende boekbespreking gelei deur die bekroonde literêre kommentator, Jonathan Amid, 'n glas wyn, sowel as 'n stewige bak sop en warm brood.
Date: Thursday, 30 July 2026
Time: 18:00 - 21:00
Die gesprek sal in Afrikaans plaasvind en kaartjies kan nou hier gekoop word.