Virtuele Wynoesherdenking 2021

ARCHIVED PAST EVENT
Razelle Galant
TIME:    19h00
VENUE:    Online
MAP

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf herdenk op Dinsdag 2 Februarie 2021 die eerste wynoes op Suid-Afrikaanse bodem 362 jaar gelede soos op dié dag in 1659 deur Jan van Riebeeck in sy dagboek opgeteken. #sawineharvest2021

Die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid word vanjaar vir die 10de keer te Groot Constantia, Suid-Afrika se oudste wynlandgoed, aangebied. Die geleentheid vind egter vanjaar virtueel plaas. 

Hierdie geleentheid behels drie aspekte, naamlik die Seën op die Oes, die herdenking van die 362ste bestaansjaar van die wynbedryf en die verering van rolspelers.

‘n Wyn-ikoon of -instansie ontvang elke jaar die spesiale 1659-Toekenning vir Visioenêre Leierskap vir sy of haar of hul bydrae tot die bedryf.  Drie nuwe toekennings word ook vanjaar as deel van die Wynoesherdenkingsgeleentheid ingestel. Talle persone lewer onskatbare bydraes tot die uitbouing van die wynbedryf. Die doelwit met hierdie drie nuwe toekennings is om die poel van erkenning te verbreed. Dié toekennings dek die kategorieë Diversiteit en Transformasie; Wynwaardering en Wynbevordering; asook Wingerdbou en Wynskepping.

Finansiële ondersteuning en vennootskappe vir die geleentheid kom van Groot Constantia Landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS at SPAR Wine Show. Agri-Expo is die organiseerder.

Die virtuele geleentheid vind op Dinsdag 2 Februarie 2021 om 19:00 op die webwerf www.sawineharvest.co.za plaas en is oop vir almal. Die program sluit optredes deur die internasionaal bekroonde operasangers en susters Pretty en Nombulelo Yende in.

Vir enige navrae, kontak Razelle Galant by razelle@agriexpo.co.za of 021 975 4440. #sawineharvest2021